Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 20 MEI 2007

U luister na amateurradiostasie ZS6SRL van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. U kan ook na hierdie oggenduitsendings luister deur per Echolink met ZS6FCS te koppel. U kan ook na www.sarl.org.za gaan en op ARMI klik en die daar aangeduide skakels volg om oudio daarvandaan te ontvang. Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van die SARL se webwerf nl. www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 MHz in die Pretoriagebied en 145,7875 en 438,850 MHz in die Johannesburggebied. (Ander nuuslesers verander soos nodig).

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons die heengaan van Hellie Claassen, ZS4GV,op 16 Mei, moet aankondig. Ons innigste meegevoel gaan aan sy familie en vriende, spesiaal van die Sasolburgradioklub en sy ander vriende in die Vaaldriehoek.

Volgens ‘n koerantberig is Ted Broome, ZS6KA, 81, en sy eggenote Norma, ZS6KN, 83, blykbaar op Dinsdagmiddag 16 Mei, by hul huis in Brakpan, wreed aangeval,. Norma is oorlede en Ted sterk in die hospitaal aan. Aan Ted ‘n spoedige en volkome herstel, en aan hom, sy familie en vriende ons innige meegevoel en sterkte toegewens.

(POUSE)

In die nuus vandag:

VOLGENDE WEEK SE INTEGNET SAL BESPREKINGS OOR APRS BEVAT.

SARL KONDIG NUWE TEGNOLOGIEPROJEK AAN

DRIE RADIOAMATEURS ONTVANG TOEKENNINGS VIR HUL BYDRAE AAN AMATEURRADIO, GEMEENSKAPSDIENS EN TEGNOLOGIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir die volledige berigte oor die voorgenoemde items, sowel as ander belangrike en interessante berigte.

VOLGENDE WEEK SE INTEGNET SAL BESPREKINGS OOR APRS BEVAT

In volgende week se Integnet sal Dick Stratford, ZS6RO, APRS bespreek en poog om antwoorde aan vrae soos “Wat is APRS? Hoe werk dit? Wat kan ek met APRS doen?”, te gee.

Sluit om 20:00 op ’n herhaler naby jou of op die web by Dick aan. ’n Paar dae voor die aanbieding sal Dick ’n Power Point-aanbieding op die web, vir aflaai of besigtiging, beskikbaar stel. Besoek www.sarl.org.za en klik op ARMI. Klubs wat wens om hul herhaler te aan die net koppel moet voor Sondag ’n e-pos aan armi@sarl.org.za stuur met besonderhede van die telefoonnommer wat gekoppel moet word.

SARL KONDIG NUWE TEGNOLOGIEPROJEK AAN

Die Raad van die SARL het ’n nuwe projek goedgekeur vir die ontwerp van ’n HF-send/ontvanger geskik vir gebruik deur nuwe amateurs en wat sal voorsien in ’n bekostigbare toegangspunt aan die stokperdjie.

Die eerste fase van die projek sal ’n uitvoerbaarheidstudie behels, om die spesifikasie en argitektuur van die send/ontvanger te bepaal, en of dit koste-effektief gelewer kan word. Indien die uitvoerbaarheidstudie belowend blyk te wees, sal die projek voortgegaan word met die ontwerp, industrialisering en die bou van ’n prototipe van die send/ontvanger.

Aanvangsbefondsing, spesifiek vir hierdie projek, het gekom van ’n baie vrygewige anonieme SARL-lid.

Hierdie is nie ’n kompetisie nie, maar eerder ’n ko-operatiewe projek wat die energie en deskundigheid van SARL-lede gebruik om ’n wêreldklasontwerp voort te bring. Die projek sal deur die SARL-tegnologieraadslid, Andrew Roos, ZS6AA, bestuur word. Lede wat wens om by te dra, en betrokke te raak by hierdie projek, word versoek om met hom in aanraking te kom by posadres andrew.roos@mweb.co.za.

Nadere besonderhede sal eersdaags op die webwerf van die SARL geplaas word.

DRIE RADIOAMATEURS ONTVANG TOEKENNINGS VIR HUL BYDRAE AAN AMATEURRADIO, GEMEENSKAPSDIENS EN TEGNOLOGIE

Drie radioamateurs het toekennings ontvang vir hul bydrae aan die bevordering van Amateurradio, Gemeenskapsdiens en Tegnologie by ’n toekenningsfunksie wat verlede week Dinsdag, deur die Suid-Afrikaanse Amateurradioontwikkelingstrust aangebied is.

Dave Reece, ZS1DFR, het die Siemens Radioamateur-van-die-Jaar-Toekenning (operasioneel) ontvang vir sy ontwikkelingsbedrywigheid onder die jeug. Dave bring sy vrye tyd deur, deur leerders by Cape Maths and Science by amateurradio betrokke te kry en het opleiding gereël vir belangstellende leerders om die radioamateureksamen deur te kom. Hy reël ook geleenthede op die lug waar leerders die geleentheid het om in die bedryfsdeel van die stokperdjie ondervinding op te doen. Sy ander passie is om radioamateurs te kry om die nuwe tegnologieë aan te gryp en is besig om APRS aktief te bevorder. Hierdie sisteem is deur die VSA-radioamateur, Bob Bruninga, ontwikkel vir die opspoor en digitalekommunikasie met mobiele GPS-toegeruste stasies dmv. tweerigtingradio. In die tien jaar sedert die bekendstelling daarvan het dit gegroei om elke aspek van amateurradio te omvat. Dave is ook voorsitter van die Kaapstad Amateurradiosentrum.

Hannes Coetzee, ZS6BZP, het die Siemens Radioamateur-van-die-Jaar-Toekenning (Tegnologie) ontvang vir sy bydrae tot die bevordering van nuwe tegnologieë en tuiskonstruksie van radiotoerusting. Hy het bygedra tot die bou van die prototipes van die SA AMSAT-toerusting wat met Suid-Afrika se tweede satelliet, Sumbandilasat, sal vlieg. Dit het die bou en toets van twee weergawes en integrering in die werksisteem van die ontwerp en sagteware, wat ontwikkel is deur amateur Andrew Roos, ZS6AA, behels. Die toerusting is onlangs, met uitstekende resultate, ten volle deur SunSpace getoets. Die sisteem sal radioamateurs voorsien van ’n satellietkommunikasieskakel, ’n papagaaiherhaler en ’n oudiobaken. Met die betowering van die ruimte hieraan gekoppel sal die papagaaiherhaler goeie toepassing in die klaskamer vind deur leerders die belangrikheid van korrekte spraak uit te wys.

Die derde toekenning, die Siemens Amateurradiogemeenskapsdienstoekenning, is gemaak aan Davy Smeda, ZR1FR, ’n Kaapstadse radioamateur wie se passie dit is om kommunikasie vir tydrenne en sportbyeenkomste te verskaf. Hy was ’n belangrike skakel gedurende die 1985 Laingsburgvloed toe radioamateurs radioverbinding tussen Laingsburg en die Kaapstadse Noodsentrum opgestel het en rampverligtingskommunikasie vir etlike dae daargestel het toe ander kanale ontwrig was. Daar word dikwels daarop gewys dat ons selfone het maar in die praktyk is daar bewys dat in rampgevalle word die selsisteem oorlaai en dan faal dit.

NOODKOMMUNIKASIE BOAAN DIE IARU ADMINISTRATIEWE RAAD SE AGENDA.

Die Administratiewe Raad van die Amateurradiounie (IARU) het sy jaarlikse vergadering op 14-15 Mei te Boston, Massachusetts, VSA, gehou. Die vergadering is vanjaar vroeër as gewoonlik gehou om die voorbereidings vir die Internasinale Telekommunikasieunie se Wêreldradiokommunikasiekonferensie (WRC-07), later vanjaar in Geneve, in oënskou te neem.

IARU-deelname in die Globale Radioamateurnoodkommuniksiekonferensie (GAREC-07) wat in mid-Augustus vanjaar in Huntsville, Alabama gehou sal word, is bespreek. Die Raad is vasberade om maniere te soek om die koördinasie en bevordering van rampreaksievermoë van die amateurdiens wêreldwyd te verbeter. ’n Konsepstrategiedokument is van die IARU-internasionale koördineerder van Noodkommunikasie, Hans Zimmermann, HB9AQS/F5VKP, ontvang. Die Raad sal meer inligting van lidverenigings soek oor die posisie van die nasionale regulering van die amateurdiens in die voorbereiding en verskaffing van noodkommunikasie, sodat probleemareas uitgewys en oplossings ontwikkel kan word.

Verslae van ander IARU internasionale koördineerders en adviseurs is ontvang. Hulle is Internasionale Bakenprojekkoördineerder Peter Jennings, AB6WM/VE3SUN, Satellietadviseur Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, EMK-adviseur Christian Verholt, OZ8CY, en Tussentydse Moniteringsisteemkoördineerder Chuck Skolaut, K0BOG. Koördineerders en adviseurs is heraangestel.

Gelukwensing aan Hans ZS6AKV met sy heraanstelling.

Die Raad het menige ander belangrike onderwerpe bespreek. SARL-nuus sal oor die volgende aantal weke in meer besonderhede oor die vergadering verslag doen.

GEBRUIK ‘N HERHALER IN AFDELING 6 439,050 MHz IN AFDELING 6?

Die bandbeplanningsgroep in Afdeling 6 wens 439,050 MHz aan ‘n nuwe herhaler in die Pretoriagebied toe te ken en wil graag seker maak dat dit nie reeds in gebruik is nie.

Indien u bewus is dat hierdie frekwensie reeds in gebruik is, laat Peter Hers, ZS6PHD, asb. weet by 083 445 4634 of per e-pos aan zs6phd@mweb.co.za.

KLUBNUUS

ZS1HELL-BELONING

Die ZS1HELL-span kondig ook met trots aan dat die aantal QSL-kaarte benodig om in aanmerking te kom vir 'n "TOP BAND-sertifikaat" behaal is op die elektroniese QSL-diens van die SARL-webwerf. Hierdie is 'n bewys dat die elektroniese QSL-diens beslis werk.

Die ZS1HELL-span, bestaande uit 12 lede van die Boland Amateurradioklub bedank graag alle stasies wat reeds hulle QSL elektronies beantwoord het.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal wissel van stil tot onrustige vlakke gedurende 21 tot 23 Mei. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 m en 15 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m openinge vanaf 06:00 en weer om 14:00 SAT na Indië. Na Australië toe kan 40 m om 22:00 oopmaak. Vanaf ongeveer 14:00 is daar moontlike goeie 15 en 20 m openinge na Europa.

Kontakte met die Verenigde State gaan baie uitdagend wees. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste kan dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Alhoewel die DX toestande tans nie te bemoedigend is nie word daar voorspel dat die volgende sonvleksiklus gedurende Maart volgende jaar 'n aanvang gaan neem. Onthou dat HF jou nog steeds altyd kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

27 Mei – Integnet;
16 Junie – SARL-Jeugdag;
30 Junie - Sluitingsdatum vir SA-DX-opname.

Sarlnuus maak staat op nuusitems wat vir radioamateurs van belang is en deur klubs en individue ingestuur word. Die enigste manier om te verseker dat u berigte Sarlnuus bereik is om dit in die korrekte plek op die webwerf van die SARL nl. www.sarl.org.za/newsinbox.asp te plaas nie later nie as die Donderdag wat die bulletin voorafgaan. Dit sal waardeer word indien u dit in Afrikaans sowel as Engels sal doen.

Die SARL nooi ook alle luisteraars om elke Sondagoggend om 10:00 SAT na die program Amateur Radio Mirror International op 145,750 MHz in die Pretoriagebied, en op verskeie ander herhalers, en met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Oudiostrome is ook vanaf www.zs6mrk.org sowel as per Echolink vanaf ZS6FCS, soos vir hierdie bulletin, beskikbaar. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Telkom en Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003